Die psalmdigter was keelvol vir die “oormoedige mense” en die “hovaardiges” (Psalm 123:4). Miskien voel jy ook vandag so. Mense in jou omgewing, by jou werk, in die klaskamer of waar ook al, spot met jou geloof in Christus en die feit dat jy Hom wil volg. Ja, stokke en stene kan ons bene breek, maar woorde kan baie seerder maak. Derek Kidner het ’n kommentaar oor hierdie Psalm geskrywe en hy sê dat die spot wat Christene moet verduur, soos “koue staal” is. Ons kan die spot van ongelowiges hanteer deur net soos hulle te word en terug te kap, of ons kan hulle poging om ons te verneder as ’n eerbetoning beskou. Ons kan juig omdat ons waardig geag is “om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly” (Hand. 5:41). Dis beter om vir ’n kort tydjie “skande en veragting” te ondervind as om vir ewig verlore te gaan. Ons moenie soos die spotters wees nie. Ons moenie terugkap nie, maar hulle seën en vir hulle bid. “Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie” (Romeine 12:14). Indien ons so ’n gesindheid openbaar mag God hulle deur ons optrede na Jesus toe trek en mag hulle tot bekering kom. Sodoende sal ons oomblikke van vernedering eintlik oomblikke van ewige heerlikheid wees. Ten laaste vermaan die psalmdigter ons dat ons na die Here moet kyk (Ps. 123:2) Hy verstaan ons beter as enigiemand anders, want Hy het ook verwerping ondervind. Hy sal deernis betoon en ons genadig wees.