Ons lewe in ’n tyd wanneer allerhande meningspeilings gedoen word. Besluite word deur die skares geneem en soms is dit goed. Peilings kan ons inlig oor ondervindinge wat persone opgedoen het, die kwaliteit van sekere produkte en sodoende kan ons wyser besluite neem. Meningspeilings kan die regering ook ’n aanduiding gee hoe hulle nuwe inisiatiewe opgeneem sal word. Alhoewel die inligting wat opgedoen word, ’n kwessie van persoonlike opinie is, kan dit tog help om besluitneming op verskillende vlakke te vergemaklik. Maar wanneer dit by die belangrikste besluit in die lewe kom, kan ’n publieke meningspeiling ons nie die antwoord gee nie. Elkeen moet self antwoord. In Matteus 16 lees ons dat Jesus sy dissipels na Sesarea Filippi geneem het en toe gevra het: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” (vs. 13). Verskillende antwoorde is gegee – maar nie een was korrek nie. Toe het Jesus hom na sy dissipels gewend en reguit gevra: “Maar julle … wie, sê julle, is Ek?” (vs. 15). Petrus het toe die korrekte antwoord gegee: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (vs. 16). Die publieke opinie kan help om sekere vrae te beantwoord, maar nie die een vraag wat die mens se ewige bestemming bepaal nie. Wie sê jy is Jesus? Indien jy met die Bybel saamstem en jou vertroue op Jesus plaas, het jy die ewige lewe.