Tot die dag dat ek gevind is, het ek nie besef dat ek verlore was nie. Ek het soos gewoonlik voortgegaan, my take afgehandel en met die gewone dinge aangegaan. Toe ontvang ek eendag ’n epos met die boodskap: “Ek dink jy is my niggie.” Toe ek my niggie se boodskap gelees het, het ek uitgevind dat sy en ’n ander niggie al vir 10 jaar na ons tak van die familie soek. Die ander niggie het haar pa belowe, net voordat hy gesterf het, dat sy nie sou rus voordat sy sy familie gevind het nie. Ek het niks gedoen om verlore te raak nie en ek het nie nodig gehad om iets te doen om gevind te word nie. Al wat ek moes doen, was om te erken dat ek die persoon is na wie hulle gesoek het. Toe ek verneem hoeveel moeite hulle gedoen het om my op te spoor, het ek regtig goed gevoel. Dit het my aan die “verlore en gevind” gelykenisse van Lukas 15 laat dink – die verlore skaap, die verlore geldstuk en die verlore seun. Elke keer wanneer ons van God afdwaal, doelbewus soos die verlore seun, of onopsetlik soos die verlore skaap, soek God ons. Al voel ons nie dat ons verlore is nie, is ons van Hom geskei. Om gevind te word, moet ons insien dat God ons soek (Lukas 19:10). Dan moet ons erken dat ons verlore is. Deur ons verlorenheid te erken, kan ons met Hom versoen word en weer deel van sy familie word.