Gedurende die Koue Oorlog (1947- 1991) was daar geweldige spanninge tussen die wêreld se supermagte. Albert Einstein het opgemerk: “Ek weet nie met watter wapens die Derde Wêreldoorlog geveg sal word nie, maar in die Vierde Wêreldoorlog sal met stokke en klippe geveg word.” Dit was ’n oomblik van helderheid wat hom op die gevolge van ’n kernoorlog laat fokus het. So ’n kernoorlog sou vernietigend wees. Ongelukkig kyk ons nie altyd so na die toekoms nie. Somtyds is dit moeilik om die gevolge van ons keuses te bepaal. Ons dink net aan die volgende oomblik. Moses het vooruit gekyk toe hy ’n keuse oor sy toekoms gemaak het (Hebr. 11:24- 26). “Omdat Moses geglo het, het hy … geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê. Die smaad ter wille van Christus het hy ’n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het.” Moses se keuse was nie maklik nie, maar hy het geweet dat die probleme wat hy sou ondervind omdat hy reg gelewe het, nie sou opweeg teen die beloning wat hy eendag sou ontvang nie. Wanneer ons vooruitkyk, is ons gewillig om die “smaad ter wille van Christus” – die moeilike tye wat sal kom omdat ons Jesus volg, te verdra, ter wille van die beloning wat ons eendag sal ontvang?