Toe ek saam met ’n vriend op reis was, het ons van sy GPS toestel gebruik gemaak om vir ons die regte pad aan te dui. Nadat ons ons bestemming op die skerm aangedui het, het ’n stem aan ons gesê watter pad ons moes neem en waar ons moes draai. Indien ons van die roete afgedwaal het, per ongeluk of doelbewus, het die stem gesê: “Regstelling.” Dan sou dit aan ons verduidelik hoe ons na die regte pad moes terugkeer. Die Bybel verduidelik in 2 Timoteus 3:16 dat daar ook ’n geestelike regstellingssisteem is, wat ons deur die lewe lei. “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek.” Leerstellings toon vir ons die weg aan; regstelling wys vir ons wanneer ons van die pad af is en hoe om weer op die regte weg te kom; en opleiding in geregtigheid wys vir ons hoe ons op die Here se pad kan bly. Die foute en verkeerde keuses wat ons op ompaaie weg van God af plaas, moet nie geringgeskat word nie. Maar om te misluk is selde dodelik en min besluite is finaal. Die oomblik wanneer ons van die pad afdwaal, is die Heilige Gees besig om regstelling te doen en ons weer op die Vader se weg terug te bring. As ons van die spoor afgedwaal het, is dit nou die tyd om God se stem te hoor en na sy weg terug te keer.