Die aangenaamste tyd van die liggaamsoefening klas wat ek bywoon, is die laaste vyf minute. Dan lê ons almal plat op die rug op ons matte, die ligte dof sodat ons regtig kan ontspan. Gedurende daardie periode sê ons instrukteur soms saggies: “Vind ’n plekkie waarin jy kan rus.” Ek dink altyd die beste plekkie waar ek kan rus, word so pragtig beskrywe in Cleland B. McAfee se gedig Near to the Heart of God. Daar is ’n plekkie van ware rus, Naby die hart van God. ’n Plek waar sonde nie kan pla, Naby die hart van God. O Jesus, kosbare Verlosser, Gestuur vanuit die hart van God, Hou ons wat vertrouend op U wag, Steeds naby aan die hart van God. Hierdie lied is in 1901 geskrywe, nadat McAfee se twee niggies aan witseerkeel dood is. Die kerkkoor het die lied buite sy broer se huis gesing om sodoende hoop en bemoediging te gee in die wete dat God daar is en dat Hy omgee. Paulus vertel ons van God se hart van liefde vir ons (Romeine 8:31-39). Niks kan ons van Hom skei nie, nie lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard, dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge, of kragte of hoogte of diepte, ja, niks kan ons van Hom skei nie. “God is vir ons, wie kan teen ons wees” (Romeine 8:31). Watter spanninge en probleme ook al oor ons pad mag kom, die plek waar ons rus kan vind is in die hart van God. Laat alles in sy hande want “Hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:7).