Elke ouer ken die verskil tussen reëls wat met die welsyn van die kind voor oë opgestel is en dié wat ter wille van die ouer daar is. God se reëls is hoofsaaklik daargestel ter wille van die kind. As Skepper van die menslike ras weet God wat die beste vir die menslike samelewing is. Ek het in ’n stadium op hierdie wyse na die Tien Gebooie begin kyk, met ander woorde as reëls wat tot ons voordeel opgestel is en nie net om ons in te perk nie. Jesus het hierdie beginsel beklemtoon toe hy gesê het: “Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie” (Markus 2:27). Die Bybel is ’n baie realistiese boek. Dit neem aan dat mense geneig sal wees om ’n ander se goed te begeer of om met begeerlikheid na ’n ander te kyk; dat sommige mense te hard sal werk, ander weer kwaad sal word en met woede sal reageer. Die Bybel neem aan dat die menslike ras wanorde en chaos sal skep, oral waar ons betrokke is. Daarom bied elkeen van die Tien Gebooie vir ons ’n skild om ons hierteen te beskerm. Ons het die vryheid om nee te sê vir ons sondige neiginge en begeertes. Deur dit te doen, voorkom ons dat ons leed aangedoen word. As ons die Tien Gebooie as ’n geheel neem, dan vind ons dat die lewe op hierdie planeet baie meer betekenisvol en gestruktureerd sal wees en die gevolge daarvan is dat ons, as ’n vreedsame en gesonde samelewing, tot eer van God sal kan lewe.