Die Trans-Alaska pyplyn strek byna 2000 kilometers deur Alaska. Omdat dit gebou is in ’n area waar baie aardbewings plaasvind, moes die ingenieurs seker maak dat die pyplyn die druk sou kon weerstaan. Hulle het besluit om ’n netwerk van Teflon skuifblokke, wat spesiaal daarvoor ontwerp is, te gebruik sodat die skok as gevolg van aardskuddings verminder sou word. Ingenieurs was dankbaar toe die eerste groot toets gekom het, want alhoewel ’n aardbewing in 2002 veroorsaak het dat die grond 18 voet geskuif het, het die Teflon skuifblokke die beweging so goed hanteer dat die pyplyn nie beskadig is nie. Buigsaamheid was die sleutel. Die gelowige se geestelike pyplyn na die hemel is gegrond op die onwrikbare geloof in God. Maar as ons onbuigsaam is in ons verwagting van hoe die Here sal werk, kan ons probleme optel. In ’n krisis kan ons die fout begaan om ons oë van die Here weg te draai en op ons pynlike situasie te fokus. Ons gebed behoort te wees: “Hemelse Vader, ek verstaan nie waarom U hierdie pynlike situasie toegelaat het nie. Maar ek vertrou dat U my sal deurdra ongeag wat om my gebeur.” Die psalmdigter het dit so goed gestel: “Onder u vleuels sal ek skuil totdat die bedreiging verby is” (Psalm 57:2). Wanneer dit voel asof die aarde onder ons wil padgee, laat ons buigsaam wees en weet dat wat ook al gebeur, God is in beheer en Hy is ’n God van liefde.