Tydens ’n onlangse middagete het die kwessie van haai aanvalle ter sprake gekom. Daar is vertel dat so ’n aanval eenmaal in die Michigan meer voorgekom het. Dit het so onwaarskynlik geklink dat ’n haai in ’n varswater meer, so ver van die see af, gevind kon word. Ek het op internet gekyk en gesien dat daar wel melding gemaak word van een so ’n aanval in 1955 by die Michigan meer. Die bewering is egter nooit geverifiëer nie. Indien die storie waar sou wees, was dit beslis ’n seldsame gebeurtenis. Sou dit nie wonderlik wees as moeilike tye en probleme ook, soos haai aanvalle in die Michigan meer, baie seldsaam en miskien selfs onwaarskynlik kon wees nie? Maar hulle is nie. Moeilikhede en probleme is baie algemeen, maar wanneer dit met ons gebeur, voel ons dis onregverdig en dat so iets nie oor ons pad behoort te kom nie. Miskien is dit waarom die apostel Petrus aan die Christene van die eerste eeu, wat met moeilikhede te kampe gehad het, die volgende woorde geskryf het: “Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dis nie iets vreemds wat met julle gebeur nie” (1 Petrus 4:12). Hierdie beproewinge is nie abnormaal nie – en wanneer ons eers oor ons ontsteltenis gekom het, kan ons ons na die Vader wend, Hy wat ons liefhet en in ons harte en lewens werk. Sy liefde is ewig en faal nooit nie. En in ons wêreld met al sy probleme is so ’n liefde dringend nodig.