Gedurende ’n internasionale konferensie oor boeke en die publikasie van literatuur, het ’n jong Fransman vertel wat hy daar beleef het. ’n Dame het een van sy boeke opgetel, dit bekyk en toe verklaar: “Uiteindelik! ’n Verhaal wat skoon is!” Hy het reageer: “Ek skryf skoon verhale omdat my denke suiwer is. Dis nie vir my ’n inspanning nie!” Wat hy geskryf het, het van binne gekom, daar waar Christus reeds die kern van sy lewe verander het. In Johannes 15 leer Jesus sy dissipels dat dit nodig is om in Hom te bly as jy ’n vrugbare lewe wil lei. Hy het die beeld van die wingerdstok en die takke gebruik en gesê: “Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het” (Joh. 15:3). Bybelkommentator W. E. Vine sê dat die Griekse woord vir clean, wat in die Engelse vertaling voorkom, eintlik beteken om vry van enige onreinheid, of smet te wees. ’n Rein hart is die werk van Christus en slegs deur sy krag en genade kan ons rein bly. Ons faal dikwels maar “as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Johannes 1:9). Vernuwing en reiniging moet van binne geskied. Jesus het ons deur sy offer aan die Kruis en sy Woord gereinig. Ons woorde en optredes wat ander raak, vloei uit ons voort, namate ons in Christus bly.