Die afgelope klompie jare was dit my voorreg om tieners op agt sendinguitreike te neem. Een ding wat ek geleer het is dat tieners nooit te jonk is om ’n impak vir Jesus te maak nie – op my, of op ander met wie hulle in aanraking kom. Ek het ook agtergekom dat die tieners wat die grootste impak op ander maak, hulle is wat die karaktertrekke wat Paulus in 1 Timoteus 4:12 vermeld, openbaar. In ’n poging om Timoteus te oortuig dat hy nie te jonk is om ’n impak vir Jesus te maak nie, het Paulus hom beveel om “’n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid” te wees. In woord: Jongmense wat ’n impak vir Jesus maak, waak oor dit wat hulle sê, vermy negatiewe gesprekke en praat oor dinge wat die Here verheerlik. In optrede: Tieners wat waak oor hulle optrede, is ’n lig vir die wêreld. In liefde: Deur te let op Jesus se bevel dat Christene God en hulle naaste moet liefhê (Matteus 22:37-39), sal tieners Jesus verheerlik en harte van mense aanraak. In geloof: Diegene wat hulle geloof in dade omsit, sal lewens van ander verander. In reinheid: Dis moeilik om moreel suiwer te wees en die Christelike leerstellings te eerbiedig, maar tieners en jongmense wat dit doen, stel vir ons almal ’n voorbeeld. Ja, Paulus se woorde is nie net vir die jonger geslag nie. Almal van ons moet ’n voorbeeld in woord, optrede, liefde, geloof en reinheid wees. So kan ons ’n impak vir Christus maak.