Die boek Jona bevat alles wat nodig is om ’n spannende rolprent te maak. Dit vertel van ’n profeet wat gevlug het, ’n verskriklike storm, die profeet wat deur ’n groot vis ingesluk word, en God wat dan ingryp om die profeet se lewe te red met die gevolg dat ’n groot, heidense stad die evangelie hoor en tot berou en bekering kom. Maar die boek na Jona, die boek Nahum, is beslis nie so populêr nie. Nahum het ook in Nineve gewerk net soos Jona, omtrent ’n honderd jaar later. Teen hierdie tyd het die Nineviete geen belangstelling meer in bekering gehad nie. En as gevolg hiervan moes Nahum ’n oordeel oor die stad uitspreek. Nahum het die volgende boodskap aan die mense van Nineve oorgedra: “Die Heer is lankmoedig, maar sy krag is groot. Hy laat geen skuldige ongestraf nie” (Nahum 1:3). Tog het Nahum ook ’n boodskap van bemoediging gehad. Om die mense van Juda te bemoedig het hy gesê: “Die Here is goed, Hy is ’n toevlug in tyd van nood. Hy sorg vir dié wat by Hom skuil” (Nahum 1:7). Ons sien in die verhale van Jona en Nahum dat elke nuwe geslag weer nodig het om ’n besluit oor God te neem. Niemand kan sy of haar geestelike lewe en geloof aan iemand anders oorgee nie. Elke persoon moet self kies om die Here van harte te dien. God se boodskap is vandag nog net so vars as eeue gelede: oordeel vir die ongelowige en genade vir diegene wat hulle bekeer. Hoe sal jy reageer?