Hy was moeg en kwaad. Hy was omgekrap dat hy altyd beskuldig word vir alles wat verkeerd gaan. Jaar vir jaar het hy hulle deur al die moeilike situasies deurgehelp. Hy was voortdurend besig om vir hulle by die Here in te tree, maar al wat hy vir al sy moeite gekry het, was kritiek en probleme. Uiteindelik het hy in al sy frustrasie uitgeroep: “Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?” (Numeri 20:10). Daardie voorstel mag vir ons voortvarend klink, maar dit was tog nie, want 40 jaar tevore het hulle dieselfde probleem gehad – geen water nie. God het Moses beveel om ’n rots met sy staf te slaan (Eksodus 17:6). Toe hy gehoorsaam, het strome water uit die rots uitgespuit – baie water. En toe dieselfde probleem soveel jare later weer opduik, het Moses dieselfde gedoen as 40 jaar tevore. Maar dit was die verkeerde ding wat hy gedoen het. God het hom beveel om met die rots te praat, maar hy was ongehoorsaam en in sy ongeduld het hy die rots geslaan. Somtyds as ons moeg is en frustrasie beleef, luister ons nie aandagtig na wat God sê nie. Ons neem sommer aan dat Hy altyd op dieselfde wyse te werk gaan. Somtyds beveel hy ons om op te tree, iets te doen en by ander geleenthede om te wag. En soms wil Hy hê ons moet praat, getuig, vertel wat Hy gedoen het. Daarom is dit so belangrik dat ons altyd goed moet luister na wat Hy vir ons sê, voordat ons optree.