Gedurende die era van ontdekkingsreise in die 15de en 16de eeu, toe skepe die oseane deurkruis het, moes hulle gevaarlike storms hanteer en moeilike kuslyne navigeer. Die stuurmanne het verskillende tegnieke gebruik, onder andere ’n boek, die rutter (nie die rudder, die skip se stuurtoestel nie). Hierdie rutter was ’n skeepsjoernaal waarin vroeëre seevaarders hulle ondervindinge aangeteken het en klem gelê het op gevaarlike situasies wat hulle beleef het. Deur hierdie inligting in die rutter te lees, kon kapteins die gevare hanteer en stormagtige toestande die hoof bied. Die Christelike lewe is in baie opsigte soos ’n reis wat onderneem word. Die gelowige het hulp nodig om die moeilike situasies te navigeer. Ons het daardie hulp beskikbaar, want die Here het aan ons ’n geestelike rutter gegee. Dit gebeur dikwels dat wanneer ons ’n spesifieke Skrifgedeelte lees, ons God se getrouheid onthou en hoe Hy ons deur moeilike situasies heengelei het. Soos die psalmdigter aanvoer, is daar gevare, nie net in ons omstandighede nie, maar ook wat ons neiging tot sonde betref. As gevolg van hierdie twee gevare het hy geskryf: “Laat u woord my op die regte pad hou; moet tog nie dat enige kwaad die oorhand oor my kry nie” (Psalm 119:133). Namate jy oor die woord nadink sal jy onthou hoedat die Here in die verlede vir jou gesorg het, leiding gegee het en jou teen gevaarlike situasies gewaarsku het. Dis die voordeel om ’n “geestelike rutter” te hê.