Onlangs het ek van ’n nuwe speletjie gehoor, iets wat my regtig stomgeslaan het en ek kan nie dink waarom enigiemand dit sou speel nie. Dit word Toe Wrestling genoem. Elke jaar kom mense vanuit alle wêrelddele na Engeland om aan die kampioenskappe deel te neem. Deelnemers sit op die grond teenoor mekaar en dan word die toon om die toon van die ander deelnemer gehak. Die doel is om die opponent se voet om te buig sodat die toon aan die grond raak, net soos die armstoeiers die ander een se arm probeer ombuig. Dit is vir my baie vreemd. Nogtans gee hierdie besondere kompetisie in ’n sekere sin ’n bietjie erkenning aan ’n liggaamsdeel wat gewoonlik geïgnoreer word – ja, totdat ons iets op die arme toon laat val! Ons tone en voete is belangrike liggaamsdele wat min aandag kry, behalwe as hulle seer is. Miskien is dit waarom Paulus die beeld van die voet gebruik om ons te herinner dat daar geen onbelangrike liggaamsdeel is nie. Hy sê: “As die voet sou sê, ‘Omdat ek nie ’n hand is nie’,” hou hy om die rede tog nie op om deel van die liggaam te wees nie (1 Kor. 12:15). Die enigste korrekte antwoord is: “Natuurlik is die voet deel van die liggaam.” Paulus wil hê ons moet besef dat elke persoon in die liggaam van Christus, belangrik is. Al voel jy dat jy geïgnoreer word en nie as lid van die liggaam van Christus beskou word nie, jy het waarde vir God en kan Hom deur jou insette vereer.