Kinders wil alles altyd nou hê. “Maar ek wil nou my nagereg hê, Mamma.” “Is ons nou amper daar?” “Kan ons nou maar ons geskenke oopmaak?” In kontras vind ons dat ouer mense geleer het om te wag. Mediese studente moet wag terwyl hulle opgelei word. Ouers wag dikwels op die terugkeer van ’n afgedwaalde kind. Ons wag vir alles wat die moeite wêrd is, en in daardie proses leer ons wat geduld regtig is. Die Here wat tydloos is, vra van ons ’n volwasse geloof, wat vertragings en uitstel kan hanteer. Soms lyk hierdie vertragings soos beproewinge. Maar geduld is ’n teken van volwassenheid, ’n karaktertrek wat net met verloop van tyd bekom kan word. Baie gebede in die Bybel is gebore uit die feit dat die bidder moes wag. Jakob het 7 jaar vir sy vrou gewag en toe nog 7 jaar vir die ander suster (Gen. 29:15-20) nadat sy skoonpa hom gekul het. Die Israeliete het 4 eeue vir hulle verlossing gewag. Moses het 4 dekades lank gewag voordat die roepstem gekom het om die volk uit Egipte te lei en toe moes die volk nog 4 dekades wag voordat hulle die beloofde land kon binnegaan. “Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag” skryf die psalmdigter (Ps. 130:6). Ons kry die beeld van die wag op die muur wat die minute aftel voordat sy skof om is. So bid ek ook vir geduld wanneer beproewinge oor my kom. Ek moet steeds met verwagting vooruit kyk, gelowig voortgaan, terwyl ek bid vir geduld.