Toe die Amerikaanse burgeroorlog in 1865 tot ’n einde gekom het, was meer as ’n half miljoen soldate dood, die ekonomie was in chaos en die volk was steeds polities baie verdeeld. Die gewoonte om Moedersdag in die VSA te vier, het begin toe twee vroue probeer het om versoening en vrede in die moeilike tyd te bewerkstellig. In 1870 het Julia Ward Howard ’n oproep vir ’n internasionale Moedersdag gedoen,’n dag waarop vroue sou verenig in die stryd teen oorloë en geweld in alle vorme. ’n Paar jaar later het Anne Reeves Jarvis haar jaarlikse Moeders Vriendskapsdag begin in ’n poging om gesinne en bure weer met mekaar te versoen na die verskrikkinge van die oorlog. Daar is altyd geweldige lyding wanneer gesinne en vriende verdeeld is en weier om te vergewe. Die evangelie van Jesus Christus bring die belofte van vrede en versoening met God en met mekaar. Toe Petrus Jesus gevra het hoeveel keer ’n mens jou broer wat teen jou gesondig het, moes vergewe, het Jesus se antwoord almal verbaas: “Sewentig maal sewe keer” (Matteus 18:22). Toe het Jesus die aangrypende en onvergeetlike verhaal vertel van die dienskneg wat vergifnis ontvang het, maar geweier het om dit aan ’n ander te betoon (Matt. 18:23-35). As die Here ons vrylik vergewe, verwag Hy van ons om ook ander te vergewe. Deur God se genade en liefde is vergifnis altyd moontlik.