“Kan jy my asseblief wys waar die gloeilampies is?” “Seker. Kom saam met my dan wys ek U.” In baie groot kettingwinkels word die werkers beveel om kliënte wat op soek is na een of ander spesiale item, te gaan wys waar dit gebêre word, en nie net mondelingse instruksies te gee nie. Hierdie eenvoudige beleefde daad, wanneer die assistent saam met die kliënt stap, mag ons help om te verstaan wat dit beteken om iemand na Jesus te lei. In Johannes 1 lees ons 2 keer dat iemand genooi word om “saam te kom” (vs. 39) en dan weer in (vs. 46) toe Filippus vir Nataniël nooi om te “kom kyk”. Nadat Andreas ’n dag saam met Jesus deurgebring het, het hy na sy broer, Simon Petrus, gegaan en vir hom gesê dat hy die Messias gesien het. Hy het vir Petrus na Jesus toe geneem (vs. 40,41). Later het Filippus vir Nataniël vertel dat hy die Messias gevind het. Toe Nataniël skepties gereageer het, het Filippus aan hom gesê: “Kom kyk!” (vs. 46). Om vir Christus te getuig is soms net om ander van Hom te vertel en die goeie nuus aangaande redding mee te deel. Maar dit mag ook nodig wees om langs ander mense te stap, persone wat hulp en redding nodig het. Ons opregte belangstelling en liefde mag net dit wees wat nodig is om so iemand waarlik na Jesus te lei. Indien ons so optree sê ons as’t ware: “Kom kyk. Ek sal saam met jou stap en jou na Hom toe neem.”