Aan die einde van my moeder se aardse lewe was sy en my pa nog baie lief vir mekaar en hulle het ’n sterk geloof in Christus gehad. My ma het egter demensie gekry en geleidelik het sy begin vergeet. Sy het selfs die familie vergeet. Nogtans het my pa haar gereeld in die tehuis besoek en haar gehelp om met haar probleme saam te leef en vrede te ondervind. So sou hy byvoorbeeld ’n toffie se toedraaipapier afhaal en die lekker in haar mond plaas, iets wat sy nie vir haarself kon doen nie. En dan, terwyl sy stadig die toffee gekou het, het Pa by haar gesit met haar hand in syne. Wanneer dit tyd geword het vir Pa om huis toe te gaan en haar te verlaat, het hy altyd met ’n breë glimlag gesê: “Ek ondervind soveel vrede en vreugde wanneer ek by haar is.” Alhoewel Pa se liefde vir Ma en die vreugde wat hy ondervind deur haar te help, my geraak het, is ek meer beïndruk deur die wete dat hy as ’t ware besig was om Jesus se liefde uit te beeld. Jesus was bereid om Homself te verneder om ons in al ons swakhede by te staan. Johannes skryf: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon” (Joh. 1:14). Met inagneming van ons swakhede, het Hy baie dade van liefde en deernis gedoen om ons deur te dra. Weet jy van iemand wat miskien vandag Jesus se liefde nodig het? Wil jy nie die kanaal wees waardeur Jesus se liefde kan vloei nie?