Aangesien ek vir die kollege sokker gespeel het, het ek nog nooit my liefde vir die spel verloor nie. Vir my is dit die Beautiful Game, die wonderlike spel. Ek het altyd graag na die Engelse Eerste Liga wedstryde gekyk. Een rede waarom ek van die spel hou, is dat dit so vinnig is en die spelers soveel behendigheid toon. Ek geniet dit ook as toeskouers hulle span entoesiasties ondersteun. Liverpool se span het byvoorbeeld You’ll Never Walk Alone as hulle temalied gehad. Dit was aangrypend om te sien hoe 50,000 toeskouers opstaan en die lied met entoesiasme sing. Dit bemoedig die spelers en ook die toeskouers en hulle ondersteun mekaar, want hulle weet hulle is nie alleen nie. Nooit nie! Almal van ons het behoefte aan gemeenskap met ander. Ons is almal deel van die samelewing en om alleen te wees is een van die pynlikste ervarings wat ’n mens kan hê. Dan is ons geloof so ontsettend belangrik. Die kind van die Here hoef egter nooit te vrees dat hy of sy verlaat sal word nie. Selfs al sou ons vriende ons versaak, of omstandighede ons van ons familie skei, is ons nooit alleen nie. God het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie” (Hebreërs 13:5). Hierdie woorde is nie net ’n leë belofte nie. Dis ’n belofte wat die Here Homself aan ons gee, aan ons wat Hy liefhet. Hy is daar en Hy sal nie weggaan nie. Saam met Christus sal jy nooit alleen wandel nie.