Het jy al ooit oorweldig gevoel deur allerhande reëls en regulasies? Dink net hoe die arme Jode gevoel het waar hulle meer as 600 wette uit die Ou Testament gehad het, plus nog heelwat ander wat deur die godsdienstige leiers van die volk bygevoeg is. En dink net hoe verbaas hulle moes gewees het toe Jesus al hierdie wette tot net twee verminder het – net twee wat hulle moes nakom as hulle geregtigheid wou najaag. “Jy moet die Here jou God liefhê … en jou naaste … soos jouself” (Matteus 22:37 en 39). Wat Jesus eintlik deur hierdie gebooie aan ons wil sê, is dat God sal weet dat ons Hom liefhet as Hy sien hoe ons ander mense behandel. En nie net enkeles nie, maar almal. En ons weet dat om dit te doen ’n uitdaging bied. Maar indien ons wel sy opdrag gehoorsaam, vind ons dat ons ander kan liefhê, ongeag wat hulle doen of hoe hulle lewe. En as ons ons naaste liefhet, val alle ander dinge in plek. Indien ek my naaste liefhet, sal ek nie valse getuienis teen hom lewer nie, nie sy geld of sy vrou begeer nie en ook nie van hom steel nie. En deur ander lief te hê omdat God dit verlang, sal Hy ons die genade gee om te kan vergewe, ja selfs hulle wat ons leed aangedoen het. Wie moet vandag Jesus se liefde in en deur jou optrede sien? Hoe meer onaanvaarbaar die persoon, deste groter die bewys hoe lief jy die Here het.