Paulus sê in Romeine 5:20: “Hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword.” Maar daardie radikale stelling bied ’n ernstige teologiese probleem. Die skrywer van die boek Judas waarsku dat daar mense is wat “die genade van ons God” (vs. 4) misbruik en redeneer dat jy tog in elk geval vergewe sal word, waarom is dit dan nodig om goed te wees en sonde te vermy? Nie eers die beklemtoning van bekering kan hierdie gevaar heeltemal uitskakel nie. Paulus spreek hierdie probleem direk aan in Romeine 6:1,2. Hy skryf: “Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie.” Dan gebruik hy ’n vergelyking wat dood en lewe kontrasteer. “Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?” (Romeine 6:2). Geen Christen wat die nuwe lewe deelagtig geword het, behoort na die sonde te hunker nie. Nogtans het die bose nie altyd ’n doodsreuk nie. Inteendeel, sonde kan vir die mens regtig so aantreklik wees. Paulus het hierdie gevaar ingesien en daarom het hy gewaarsku: “Julle moet dus altyd onthou dat ook julle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus” (Romeine 6:11,12). Indien ons waarlik die liefde van God besef en dit verstaan, sal ons ons dae deurbring deur te probeer om sy genade en omgee waardig te wees en nie om misbruik daarvan te maak nie.