Vir elkeen van ons, wat al soos Job, deur tragedies moes worstel en dan ons vrae aan God gestel het, gee Job 38 baie om oor na te dink. Probeer jouself voorstel hoe Job moes gevoel het toe Hy die stem van God uit die stormwind gehoor het. “Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie? Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My” (Job 38:1-3). Sjoe! Ek dink Job het seker so klein soos ’n miertjie gevoel. En toe God daarna sy vrae gestel het, was alles wat Hy gesê het onverwags, maar ook ingrypend. Hy het nie regtig Job se vrae beantwoord nie. Inteendeel, God het hom gemaan om na die krag en grootheid van die skepping te kyk en te dink aan dié God wat alles gemaak het. Hy moes nadink oor God se mag om alles te beheer. Is dit nie rede genoeg om God te vertrou nie? Job moes homself daardie vraag gestel het! As een voorbeeld van sy krag, het God Job beveel om na die sterrehemel te kyk en Sewester en Orion, daardie twee ontsaglike skeppinge van God, te aanskou (vs. 31). Deur dit te sien sou hy die relatiewe onbelangrikheid van die mens besef. God het wondere van die skepping beklemtoon, dinge wat bo ons verstand is, sodat die mens kan weet Wie Hy is. Ons kan Hom vertrou. As Hy die sterre in sy hand hou, kan Hy sekerlik ook na ons omsien.