Toe ek grootgeword het, het ons dikwels ’n pragtige lied in die Sondagskool gesing. Dit het so gelui: “God is goed vir my! God is goed vir my! Hy hou my hand vas en help my staande te bly! God is baie goed vir my!” Ek moet dadelik bely dat ek glo dat God goed is en dat dit Hom behaag om goed aan sy mense te doen. Hy hou inderdaad ons hand vas wanneer ons deur moeilike tye gaan en Hy help ons om staande te bly wanneer aanslae kom. Maar ek wonder of jy jouself al ooit afgevra het waarom Hy vir jou goed is? Dit is beslis nie omdat Hy dink ons verdien dit of omdat Hy voel dat Hy ons liefde en toewyding met sy goeie gawes moet koop nie. Die psalmdigter bid dat God hom sal seën “sodat sy dade oor die wêreld heen bekend mag word” (Psalm 67:3). God se daaglikse seëninge wat Hy so mildelik oor ons uitstort, is die bewys dat Hy ’n goeie God is wat omgee vir sy kinders. Maar hoe sal die wêreld ooit hiervan weet as ons nooit die Here loof, prys en dank nie? (vs. 4). So, wanneer die Here jou weer seën en met sy liefde oorlaai, kyk dan beslis na maniere waarop jy Hom kan verheerlik en aan Hom die eer kan gee. Deur sy goeie gawes te geniet maar nooit sy goedheid en genade te proklameer nie, kanselleer jy die doel van sy liefde en genade in jou lewe.