Twee jong seuns het elke Sondag heel voor in die kerk gesit en geluister na die boodskap wat hulle pa gebring het. Een aand, nadat die seuns bed toe is, het die pa gehoor dat een van hulle lê en huil. Hy gaan vra hom toe wat fout is en aanvanklik was die seuntjie huiwerig om te antwoord. Eindelik het hy bely: “Pappa, die Bybel sê ons gaan die Here vir ewig in die hemel dien. Dis darem ’n vreeslike lang tyd.” Omdat hy die hemel voorgestel het as ’n erediens en sy pappie wat die boodskap bring, het dit vir hom maar bra vervelig gevoel. Somtyds wens ek dat ons meer inligting oor die hemel gehad het en hoe dit daar sal wees, maar van een ding kan ons seker wees: Vervelig is beslis nie die regte woord om dit te beskryf nie. Ons sal skoonheid sien soos ons dit nog nooit tevore beleef het nie. Ons sal ’n rivier sien “helder soos kristal” wat “stroom uit die troon van God en van die Lam” (Openb. 22:1). Ons sal die heerlikheid van God beleef, wat die hemelruim sal verlig (Openb. 21:23, 22:5). En boonop sal ons ’n lewe sonder pyn en hartseer beleef. Ja, daar sal beslis in die hemel aanbid word. Mense vanuit “elke stam en taal en volk en nasie” (Openb.5:9) sal saam die Here verheerlik en lofliedere sing tot Hom wat vir ons gesterf en opgestaan het (Openb.5:12). Ons sal in die heerlikheid van die Here vertoef, vir altyd. Ons sal nie een oomblik verveeld wees nie.