Jesaja teken vir ons in Jesaja 46 ’n prentjie van die aanval op Babel en hoe die volk hulle afgode moes wegdra. Die waens waarop die afgode geplaas is, kraak en die arme diere wat die waens trek, kreun en worstel om die vrag te dra (Jes. 46:1). Daarteenoor sê Jesaja dat die Here sy kinders vanaf hulle geboorte dra (vs. 3). “Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra” verklaar die Here in vers 4. Die kontras word baie duidelik in die Hebreeuse teks geskilder. Die waens was “gelaai” met die gewig van die afgode, terwyl ons, as Christene, deur God “gedra word” (Jesaja 46:3). Afgode is ’n “vrag”, iets wat swaar is en gedra moet word, terwyl die Here ons nog altyd deur die jare gedra het. Hoe wonderlik om te weet dat die Here ons gemaak het (Jesaja 46:4). Niks kan vir ons meer bemoedigend wees as om te weet dat Hy vir ons omgee en dat Hy al sy beloftes aan ons gestand sal doen. Hy belowe dat Hy ons sal dra en dit beteken dat Hy ook elke las en bekommernis op Hom sal neem, ja dwarsdeur die lewe. Daarom mag ons Hom toelaat om ons laste op Hom te neem. Hierdie lied van Annie Johnson Flint daag ons uit om God se sorg te ondervind. “Moenie vrees dat jou nood sy bronne sal uitput; Ons God verlang om sy gawes te deel. Leun dus op Hom en sy ewige arm, die Vader sal jou dra en jou rus beveel.”