Ek ondergaan elke jaar ’n fisiese ondersoek – daardie besoek aan die dokter wanneer hy voel en druk, plate neem en my noukeurig bestudeer. Dis iets wat gewoonlik spanning veroorsaak en selfs gevrees word. Ons is nie seker wat die dokter se ondersoeke sal oplewer nie. Nogtans weet ons dat hierdie ondersoek nodig is vir ons fisiese welsyn, en sodat ons gerus kan voortbeweeg. Dieselfde geld vir die geestelike lewe van die volgeling van Christus. Ons het nodig om van tyd tot tyd stil te word en selfondersoek te doen oor hoe dit met ons hart en in ons lewe gesteld is. Een terrein waar selfondersoek baie belangrik is, is wanneer ons Nagmaal gebruik. Paulus het aan die Korintiërs geskryf en hulle vermaan omdat hulle op ’n onwaardige wyse geëet en gedrink het. “Elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink” (1 Korintiërs 11:28). Wanneer ons die Heilige Nagmaal gebruik, is dit die geleentheid om na te dink oor die prys wat Jesus vir ons betaal het toe Hy aan die kruis vir ons gesterf het. Dit noop ons om die toestand van die hart na te gaan en ook hoe dit met ons verhoudinge gesteld is. En dan, indien ons ’n eerlike begrip van ons eie geestelike toestand het, kan ons na Hom gaan vir die nodige genade om in sy Naam voort te beweeg. Is dit nie miskien nou tyd vir jou roetiene-ondersoek nie?