Gedurende Generaal Majoor Mark Graham se termyn van twee jaar as kommandeur van Fort Carlson in Kolorado, het hy bekend geword as iemand wat ander mense met deernis hanteer. Een van sy kollegas in die Amerikaanse weermag, het gesê: “Ek het nog nooit ’n ander offisier ontmoet wat soveel deernis met sy soldate en hulle families getoon het nie.” Nadat een van sy seuns selfmoord gepleeg en die ander een in die stryd dood is, het hy en sy vrou Carol, hulle daaraan gewy om soldate en hulle gesinne te help om stress, depressie en hartseer, as gevolg van oorloë en dienslewering, te hanteer. In die boek Handelinge lees ons van ’n volgeling van Christus wat bekend was vir sy sorg en omgee vir ander. Sy naam was Josef, maar in die destydse kerk het hy as Barnabas bekend gestaan. Die naam beteken “seun van bemoediging”. Dit was hy wat vir Paulus bygestaan het toe ander sy nuutgevonde geloof in twyfel getrek het (Hand. 9:26,27). Later het Barnabas vir Saulus van Tarsus na Antiogië gebring om die gelowiges daar te onderrig (Hand. 11:25-26). En dit was Barnabas wat vir Johannes Markus ’n tweede kans wou gee nadat hy hulle op die eerste sendingreis in die steek gelaat het (Hand. 15:36-38). Deernis is ’n innerlike gevoel wat tot optrede lei. Dit behoort ’n kenmerk van ons daaglikse dienslewering te wees (Kol. 3:12). Mag ons deur die genade van God bekend wees as iemand wat deernis aan ander betoon.