Jesus het gesê: “Ek is die opstanding en die lewe!” Dis maklik om so iets te sê, maar dis iets heel anders om dit te bewys – en Jesus het dit bewys deur uit die dood op te staan. George McDonald skryf die volgende: “As jy glo dat die Seun van God gesterf en uit die dood opgestaan het, is jou hele lewe vol van die lig van ’n sonsopkoms wat agter die heuwels van die lewe opstyg en so vol hoop is dat dit selfs vir die digter slegs ’n verbeeldingsvlug is.” Die Seun van God het gesterf en uit die dood opgestaan en sy opstanding gee ons die versekering dat God ons ook eenmaal uit die graf sal laat opstaan: ’n denkende, voelende, herkenbare persoon, wat ook ’n gesonde geheue het en ewig sal lewe. Om vir ewig te lewe beteken dat ons die ewigheid wat God in ons harte geplaas het, sal uitlewe; dat ons weer ons geliefdes wat ons vooruitgegaan het sal ontmoet, en in ’n wêreld sonder enige hartseer sal lewe. Ons sal ons Heiland wat ons liefhet, sien, Hy wat ons liefhet en sy lewe vir ons gegee het. Maar ek sien nog ’n ander betekenis raak. Aangesien ons hierdie lewe en ook die volgende een het, is dit nie nodig dat ons nou “alles moet hê nie.” Ons kan vir ’n tydjie in stukkende liggame lewe; ons kan armoede en probleme vir ’n tyd hanteer; ons kan eensaamheid en hartseer vir ’n seisoen verdra. Waarom? Omdat daar ’n wedergeboorte is – lewe in die hemel vir ewig.