Een van my geliefkoosde stories is oor die boer van Texas wat ’n boer in Duitsland met landbou inligting bedien het. Hy het die Duitse boer gevra hoe groot sy grond is en die boer het geantwoord: “Ongeveer ’n vierkante myl.” Toe het die Duitser aan die boer uit Texas gevra hoe groot sy grond is. Hy verduidelik toe dat as hy in ’n bakkie sou ry en van sonop tot sononder bestuur, sou hy nog steeds op sy plaas wees. Die Duitse boer wou die laaste woord spreek en sê toe: “Ja, ek het ook eenmaal so ’n ou trok gehad.” Ja, maar alle grappies op ’n stokkie, dis uiters belangrik om die regte perspektief te hê. Ongelukkig het die Christene in Laodisea die verkeerde perspektief ten opsigte van geld gehad (Openb. 3:14-22). Op die oog af het dit gelyk asof hulle ryk en welvarend was. Hulle het baie aardse besittings gehad en gedink dat hulle niks meer nodig het nie – nie eers vir Jesus nie. Maar Jesus het ’n ander perspektief gehad. Ten spyte van hulle materiële voorspoed het Hy geweet dat hulle “ellendig en beklaenswaardig … arm, blind en kaal” (Openb. 3:17) is. Toe het Hy hulle uitgenooi om waarlik ryk te word deur dit te soek wat net Hy kon voorsien: reinheid, karakter, geregtigheid en wysheid. Laat ons nie dieselfde fout as die Laodisense begaan nie. Kom ons behou die regte perspektief oor wat dit beteken om ryk te wees. Ware rykdom bestaan nie in dit wat jy besit nie, maar wie jy in Jesus Christus is.