’n Vriend van my het ’n lonende betrekking bedank om sy volwasse seun wat ernstig in ’n motorongeluk beseer is, te versorg. In daardie selfde jaar het die vrou met wie hy 30 jaar getroud was, ’n terminale siekte opgedoen en gesterwe. Hy sê dat hy sedert daardie dag geen antwoorde het as sy seun vir hom vra waarom dit met hulle gebeur het nie. Maar hy het my vertel van ’n wonderlike, bemoedigende droom wat hy gehad het. Hy het gedroom dat hy op ’n plek was waar die son helder geskyn het. Daar was skares rondom hom en ’n man was besig om al sy “waarom” vrae te beantwoord. Elke antwoord was so helder en oortuigend dat hy duidelik kon aanvoel waarom hy nie nou die antwoorde op sy vrae kon kry nie. Toe meteens was hy by sy seun in die droom. Toe hy probeer om die antwoorde op die vrae aan sy seun te vertel, het hy ontdek dat hy alles vergeet het. Maar hy onthou dat hy selfs daarmee tevrede was. En toe het hy wakker geword. My vriend se ondervinding herinner my aan iemand anders wat met baie onbeantwoorde vrae geworstel het (Job. 7:20-21). Eers toe die Here die stilte verbreek en aan Job ’n visioen van Homself in die wonders van die skepping gegee het, het Job iets gevind wat selfs beter as antwoorde was (Job 42:1-6). Eers toe het hy vrede gevind in die wete dat ons God goed is en dat daar baie wonderlike redes is om Hom te vertrou.