Daniël het sy hart voor die Here uitgestort (Daniël 9:2). Hy het in Jeremia gelees dat God belowe het dat die ballingskap in Babel vir 70 jaar sou duur. In ’n poging om die volk voor die Here te verteenwoordig, het Daniël gevas en gebid. Hy het by die Here gepleit om nie die verlossing van sy mense langer uit te stel nie (Daniël 9:19). Wanneer ons bid is daar sekere dinge wat ons weet en ander dinge wat vir ons verborge is. So weet ons byvoorbeeld dat as ons die Here as ons Verlosser ken, Hy ons gebede verseker volgens sy soewereine wil sal verhoor. Maar ons weet nie wat die antwoord sal wees en wanneer dit sal kom nie. Vir Daniël het die antwoord op sy gebed op ’n wonderbaarlike wyse gekom en sommer onmiddelik. Terwyl hy nog gebid het, het die engel Gabriel aan hom verskyn om die antwoord te bring. En die antwoord was net so verbasend as die feit dat dit so gou gekom het. Toe Daniël vir God in verband met die “70 weke” gevra het, het God ’n profetiese antwoord gegee en gesê daar is “sewentig tydperke vir jou volk en vir jou heilige stad” vasgestel (vs. 24). Daniël het gevra vir ’n antwoord ten opsigte van die onmiddelike toekoms, maar God se antwoord het op duisende jare in die toekoms gedui. Terwyl ons soms op ons onmiddelike situasie fokus, mag ons dalk geskok word deur God se antwoord. Tog kan ons weet dat die antwoord altyd tot sy eer en heerlikheid sal wees.