Wanneer ek die Evangelies lees, voel ek dat ek baie met die dissipels kan identifiseer. Net soos ek, lyk dit asof hulle nie kon verstaan nie en dikwels het Jesus gevra: “Verstaan julle dit ook nie?” en “begryp julle nie?” (Markus 7:18). Uiteindelik het Petrus egter die waarheid beetgekry, altans ’n gedeelte daarvan. Toe Jesus die dissipels gevra het: “Wie sê julle is Ek?” het Petrus geantwoord: “U is die Christus” (Markus 8:29). Petrus was reg ten opsigte van Wie Jesus was, maar Hy het nog nie verstaan wat Hy sou doen nie. Toe Jesus sy dood voorspel het, het Petrus Hom kwaai aangespreek. Toe het Jesus omgedraai, hom aangekyk en gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan … want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê” (Markus 8:33). Petrus het nog gedink hoe menslike koninkryke tot stand kom. Die heerser sou die ander een omverwerp en ’n nuwe regering daarstel. Hy het verwag dat Jesus dieselfde sou doen. Maar Christus se koninkryk sou op ’n nuwe manier tot stand kom – deur diens en die opoffering van sy lewe. Die metodes wat Jesus vandag nog gebruik, het nie verander nie. Waar die Satan ons aanhits om mag te soek, maan Jesus ons om nederig te wees. “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang” (Matteus 5:5). Om burgers vir die koninkryk te verwerf, moet ons Jesus se voorbeeld volg en alle selfsugtige begeertes opsy sit, ander dien en tot bekering oproep.