Aan die begin van Maart het my vriendin ’n aftelling begin. Op haar kalender in haar kantoor het sy aangeteken dat dit nog net 20 dae tot die begin van lente sou wees. Een oggend toe ek haar gesien het, het sy opgewonde uitgeroep: “Nog net 12 dae!” ’n Paar dae later: “Nog net 6.” Haar entoesiasme het my aangegryp en ek het ook begin om die dae af te tel. “Nog net 2 dae, Jerrie!” het ek gesê. “Ek weet,” het sy glimlaggend reageer. As gelowiges het ons iets baie wonderliker om na vooruit te sien as na die lente met bloeiende blommetjies en baie sonskyn na ’n lang winter. God het so baie beloftes in sy Woord gegee en almal het al in vervulling gegaan, of sal nog gebeur. Maar die belofte dat Jesus weer kom, is die wonderlikste van alle beloftes. “Die Here [sal] self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees” (1 Tessalonisense 4:16,17). Alhoewel niemand die presiese dag van die wederkoms weet of kan bepaal nie, het ons God se belofte dat Hy weer sal kom (Handelinge 1:7-11). Terwyl ons dan binnekort die Paasseisoen vier, laat ons mekaar bemoedig met die wonderlike boodskap dat die Here weer kom.