’n Belangrike koerant in die VSA het Christopher Parkening as “die leidende kunsliefhebber van die dag” beskryf. “Sy insig is iets besonders en hy het volkome tegniese beheer oor sy instrument.” Daar was egter ’n tyd toe Parkening opgehou het om sy kitaar professioneel te bespeel. Toe hy 30 jaar oud was, het hy sy loopbaan beëindig en ’n plaas in Montana gekoop waar hy sy dae met visvang deurgebring het. Sy vroeë aftrede het hom egter nie tevredenheid gebied nie. Tydens ’n besoek aan Kalifornië het hy ’n erediens bygewoon waar hy ’n baie duidelike uiteensetting van die evangelie gehoor het. Hy skryf later daaroor: “Daardie nag het ek wakkergelê, diep onder die indruk van my sondes … ek het baie selfsugtig gelewe en dit het my geen geluk besorg nie … toe het ek Jesus vir die eerste keer gevra om in my hart in te kom en om my Heer en Meester te wees. Ek onthou dat ek aan Hom gesê het dat wat Hy ook al van my vra, dit sou ek doen.” Een van Parkening se geliefkoosde tekste is 1 Korintiërs 10:31: “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.” Hy het weer die kitaar opgeneem, maar nou was sy doel om die Here te verheerlik. Elkeen van ons het gawes van die Here ontvang. Indien ons die gawes tot eer van die Here gebruik, bring dit vir ons vreugde en vervulling.