Gedurende my lewe het ek baie goeie raad van mense ontvang. Maar die raad van ’n baie goeie vriend is beslis die beste. “Die lewe bestaan nie uit die drome wat jy droom nie, maar uit die keuses wat jy maak.” Hy is heeltemal reg – jou lewe soos dit vandag is, is die somtotaal van al die keuses wat jy tot in hierdie stadium gemaak het. Paulus het dieselfde raad in Filippense 1:9 en 10 gegee toe hy gesê het dat die begrip en fyn aanvoeling moet toeneem “sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.” In elke situasie is daar ’n verskeidenheid van keuses wat uitgeoefen kan word – sommiges sleg, ander gangbaar, dan goeie besluite en ten laaste uitstekende keuses. Die Here wil hê ons moet by ons natuurlike keuses verbykyk, sodat ons uiteindelik uitstekende keuses kan uitoefen. Soms is dit baie moeilik om die uitstekende keuse te maak, veral as ons nie alleen is nie en die besluit saam met ander moet neem. Somtyds voel dit byna asof ons begeertes en vryheid van keuse ingeperk word. Moet egter nie moed opgee nie. Volg Paulus se raad en jy sal weldra uitvind dat daar baie positiewe gevolge sal wees – byvoorbeeld om “onberispelik en sonder blaam” (Filippense 1:10) te wees. Maak die keuse om ’n lewe vol “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing” (Galasiërs 5:22,23) te lewe. En verbly jou in die resultaat!