Nie te lank gelede nie, het ek en my vrou, Janet, ’n uitnodiging ontvang om by ’n dame wat ons Sondag Bybelstudie bywoon, te gaan eet. In haar ywer om vir ons ’n smaaklike ete voor te berei, het sy haar voorvinger tot op die been raakgesny. Ons het haar dadelik na die krisissentrum geneem, vir haar gebid en by haar in die wagkamer gebly totdat ’n dokter eindelik, na ’n paar uur, na haar vinger kon kyk. Nadat ons haar huis toe geneem het, het sy daarop aangedring dat ons die ete moet eet wat sy vir ons voorberei het. ’n Tyd van wonderlike gemeenskap en lewendige gesprekke het gevolg. Terwyl ons geëet het, het sy ons vertel van die baie hartseer wat sy al beleef het en hoe sy deur die genade van die Here deur alles kon kom. Sy het ondervind hoe die wonderlike genade haar lewe gevul het. Later het Janet en ek nagedink oor die onverwagte rit na die hospitaal en die wonderlike gemeenskap wat daaruit voortgevloei het. Toe het die teks in my gedagte opgekom: “Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus” (Galasiërs 6:2). Deurdat ons ons gasvrou ondersteun het, is sy geseën. En daarna het sy ons weer geseën deur die heerlike maaltyd wat ons saam kon nuttig. As ons oor hierdie gebeure nadink besef ons dat pynlike situasies dikwels geleenthede tot wonderlike gemeenskap bied as “ons mekaar se laste dra.”