In die middestad van een van Asië se groot stede, is ek getref deur die hordes mense wat op die sypaadjies geloop het. Dit het gelyk asof daar geen ruimte vir die menigtes was nie, en tog wou dit voorkom asof almal teen ’n hoë spoed voortgesnel het. Meteens is my aandag getrek deur die roerende klank van ’n trompet waarop die treffende lied, Amazing Grace gespeel is. Dit het gelyk asof die skare heeltemal onbewus was van die musiek en die man wat so pragtig gespeel het. Tog het dit hom nie afgeskrik nie. Hy het aanhou speel en so ’n boodskap deur sy musiek oorgedra aan almal wat die woorde van die lied geken en daarna geluister het. Hierdie gebeure het my aan ’n gelykenis laat dink. Die musiek het geklink soos ’n uitnodiging wat aan die skares gerig is om Christus te volg. Soos met die boodskap van die evangelie, sal daar altyd dié wees wat God se genade aanvaar en die nou pad kies. Ander ignoreer sy genade en kies die breë weg wat na die verdoemenis lei. Jesus het gesê: “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min” (Matt. 7:13,14). Jesus het gesterf sodat almal “wat die naam van die Here aanroep” (Rom. 10:13) vergifnis sal vind en deur sy genade gered sal word.