Die tydskrif Smith, ’n aanlyn groep op internet, “vier die heerlikheid van stories te vertel” en vra lesers om memoirs van ses woorde, wat hulle lewens beskryf, in te stuur. Duisende het reageer en hulle biografië bestaande uit ses woorde, ingestuur. Party was lighartig soos “Goeie vrou, goeie seuns – ek’s ryk” en dan die hartseer een “Sestig. Nog nie my ouers vergewe.” Gebaseer op die Skrif, het ek my probeer voorstel hoe koning Salomo sy lewe in ses woorde sou beskryf. As jong man kon hy waarskynlik geskryf het: God het my groot wysheid gegee. Maar in later jare sou hy moes erken: Nie gedoen wat ek gepreek het. Gedurende sy regering, wat deur vrede en voorspoed gekenmerk is, het Salomo geestelike hartsprobleme ontwikkel. Toe hy oud was, het sy “vrouens hom verlei om ander gode te dien [en] het hy die Here sy God nie meer met soveel toewyding gedien soos sy pa nie” (1 Konings 11:4). Die gevolg was dat die Here ontevrede was met hom en dit was ’n tragiese einde aan sy eens so belowende lewe (vs. 9). Die talle kere wat Salomo die woorde alles kom tot niks, dis ’n gejaag na wind in die boek Prediker gebruik, mag ’n aanduiding wees van sy ontnugtering oor die lewe en alles wat daarmee gepaard gaan. Die eens wyse koning wat in ’n stadium alles besit het, het sy boek geëindig met die uiteindelike slotsom: “Dien God en gehoorsaam sy gebooie” (Prediker 12:13). Dis die moeite werd om daardie ses woorde in gedagte te hou.