In sy boek A Crack in the Edge of the World skryf Simon Winchester van ’n dorpie waar aardbewings gereeld voorkom. Dis die klein dorpie Parkfield, in Kalifornië. In ’n poging om toeriste te trek, het ’n hotel die volgende kennisgewing aangebring: “Slaap Hier Wanneer Dit Gebeur!” ’n Lokale restaurant het ’n groot biefstuk op die spyskaart wat “Die Groot Een” genoem word. Nageregte word “Naskokke” genoem. Maar alle grappies op ’n stokkie, ’n aardbewing kan angswekkend en traumaties wees. Ek weet, want ek het al Kalifornië se aardskokke beleef. Ons lees in die boek Handelinge hoe die Here ’n aardbewing gebruik het om iemand se hart vir die evangelie ontvanklik te maak. Valslik beskuldig het Paulus en Silas hulleself in die tronk in Filippi bevind. So teen middernag het ’n aardbewing die tronk geskud en al die tronkdeure oopgemaak en die gevangenes se boeie losgemaak. Toe die tronkbewaarder hoor dat Paulus en Silas nie probeer ontsnap het nie, was hy angsbevange en het dringend gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word” (Hand.16:30). Hulle het geantwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin” (Hand. 16:31). Daardie selfde aand het die tronkbewaarder en sy gesin Jesus aangeneem en is hulle gedoop. En dit alles as gevolg van ’n aardbewing. Somtyds gebeur negatiewe dinge wat mense meer ontvanklik vir die evangelie maak. Weet jy van iemand wat tans ’n krisis beleef? Bid vir hulle en bly in kontak en wees gereed om op sensitiewe wyse te getuig.