Dit het al so vanselfsprekend geword om te hoor dat bekende publieke figure oneties opgetree het dat, alhoewel ons geskok mag wees, ons hoegenaamd nie verbaas is nie. Maar hoe behoort ons te reageer op die nuus dat iemand, vriend of publieke figuur, moreel geval het? Miskien is dit goed om by onsself te begin. ’n Eeu gelede het Oswald Chambers aan sy studente in die Bybelkollege in Londen gesê: “Wees altyd op julle hoede, want die plek waar een persoon geval het, is die presiese plek waar enigeen van ons kan val … Onbewaakte krag is dubbele swakheid.” Chambers se woorde is ’n weerklank van Paulus se waarskuwing dat ons op ons hoede moet wees vir ons eie kwesbaarheid wanneer ons na die foute van ander kyk. Nadat hy weer die ongehoorsaamheid van die Israeliete in die wildernis oordink het (1 Kor. 10:1-5) waarsku Paulus sy lesers om uit hierdie foute te leer en nie dieselfde foute te begaan nie. (1 Kor. 10:6-11). Hy het nie op probleme van die verlede gefokus nie, maar op die huidige hoogmoed en verwaandheid toe hy geskryf het: “Daarom wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (vs. 12.) Om die kop te skud en skouers op te trek, is die algemene reaksie op publieke sonde. Maar die kop wat begrypend knik: “Ja, ek is ook in staat om so iets te doen” en dan neerbuig in gebed vir die oortreder wat geval het, en die een wat dink dat hy staan, maar reeds geval het, is baie beter.