Omdat ek ’n skrywer is, gebeur dit soms dat ’n vriend aan my sê: “Ek wil ook eendag ’n boek skrywe.” “Dis ’n wonderlike idee” antwoord ek. “Ek hoop van harte jy kry dit reg. Maar weet jy, dis beter om een te wees, as om een te skryf.” Dit laat my aan Paulus se woorde dink: “Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan … nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense” (2 Kor. 3:2,3). In sy boek The Practise of Piety skryf Lewis Bayly, wat tydens koning Jakobus 1 van Engeland se regering geleef het, die volgende. “Iemand wat hoop om enige goed deur sy skryfwerk tot stand te bring, sal ontdek dat hy baie min mense iets kan leer … die magtigste wyse om die goeie te bevorder is deur die voorbeeld wat gestel word … Een man uit ’n duisend kan ’n goeie boek skryf om sy medemens te beïnvloed … Maar elke mens kan deur sy voorbeeldige lewe vir ander tot seën wees.” Die werk wat Christus in ons doen, kan ’n baie groter invloed uitoefen as enige boek. Deur die Woord wat God “op ons harte skryf ” (Jeremia 31:33) kan veel meer bereik word, want God openbaar so aan ons sy liefde en genade sodat ander dit kan sien. As Christen mag jy miskien nooit ’n boek skrywe nie, maar deur vir God te lewe, sal jy ’n ope boek wees vir almal om te lees.