Iemand het my vertel van haar siening van haar twee base. Die ondergeskiktes hou van die een, maar vrees en respekteer hom nie eintlik nie, en gehoorsaam nie altyd sy opdragte nie. Die ander een word gevrees en met eerbied behandel, tog volg die ondergeskiktes sy instruksies en hulle positiewe optrede bewys dit, want hulle het hom lief. Die Here verlang dat sy kinders Hom vrees, maar ook sal liefhê. Ons Bybelgedeelte vir vandag toon duidelik dat die Here se volgelinge Hom vrees, maar ook liefhet. Deuteronomium 10 sê dat om God se riglyne te volg, moet ons albei hierdie eienskappe toon. In vers 12 sê die Woord dat ons Hom moet eer, wat vrees impliseer, maar ook dat ons “Hom moet liefhê en dien met hart en siel.” Om die Here te “vrees en te eer” beteken dat ons die grootste respek aan Hom moet betoon. Die gelowige hoef nie geïntimideer te word deur Hom of sy karakter nie. Maar uit respek vir Hom, sy persoon en outoriteit, loop ons in sy weë en onderhou sy gebooie. Die Woord sê dat ons Hom uit liefde en met ons hele hart moet dien, eerder as net omdat dit ’n plig is (Deut.10:12). Ons liefde vir Hom vloei voort vanuit ons diepe dankbaarheid vir sy liefde en genade, eerder as uit pligpleging en nakoming van wette. “Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het” (1 Johannes 4:19). Ons liefde, sowel as agting wat ons vir God het, maak dit vir ons moontlik om sy wette van harte te gehoorsaam.