Ek het nog altyd gedink dat ek enige situasie kan hanteer as die Here net vir my inlig wat die uiteinde sou wees. Ek glo vas dat “God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet” (Rom. 8:28). Nogtans dink ek dit sal baie beter gaan as ek net kon weet presies wat “ten goede” in dié geval beteken. Maar God wys ons gewoonlik nie waarheen ons onderweg is nie. Hy vra net dat ons Hom sal vertrou. Dis soos om ’n motor in die nag te bestuur. Ons kopligte skyn nie vooruit tot by die bestemming waarheen ons onderweg is nie, hulle verlig slegs sowat 30 meter voor ons. Maar dit verhinder ons nie om vooruit te gaan, want ons vertrou op die kopligte. Al wat ons regtig nodig het, is genoeg lig sodat ons steeds vooruit kan beweeg. God se Woord is soos kopligte in donker tye wanneer ons nie weet wat wag nie. Die Woord bevat soveel beloftes en verhoed dat ons ons lewens tot in ’n put van donkerheid en moedeloosheid bestuur. Sy Woord belowe immers dat Hy ons nooit sal begewe of verlaat nie (Hebr. 13:5). Sy Woord verseker ons dat Hy weet wat Hy vir ons beplan, planne vir voorspoed en nie teenspoed nie (Jer. 29:11). Hy vertel ons dat beproewinge en probleme wat oor ons pad kom, daar is om ons beter mense te maak en nie bitter mense nie (Jak. 1:2-4). As jy dus eendag voel dat jy in die donker bestuur, onthou dan God se kopligte – sy Woord wat jou pad sal verlig.