Louis Armstrong was bekend vir sy glimlaggende gesig, sy heserige stem, die wit sakdoek wat hy altyd byderhand gehad het en die trompet wat hy so treffend bespeel het. Nogtans was sy kinderjare gekenmerk deur armoede, ontbering en hartseer. Sy pa het hom in die steek gelaat en hy is op 12 jarige leeftyd na ’n verbeteringskool gestuur. Tog was dit eintlik die positiewe keerpunt in sy lewe. Professor Peter Davis, professor in musiek, het die skool gereeld besoek en die seuns musiekonderrig gegee. Spoedig kon Louis die kornet pragtig bespeel en hy het die leier van die seuns se orkessie geword. Skynbaar is sy lewensloop deur hierdie gebeure verander en hy het ’n wêreldbekende trompetspeler en vermaaklikheidskunstenaar geword. Louis se vehaal kan ’n voorbeeld vir Christenouers wees. Die spreuk “Gee leiding aan ’n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie” (Spreuke 22:6), kan op die geestelike en morele aspekte van ons kinders se lewens betrekking hê. Ons moet besef dat die kind se gawe en talente dikwels sy of haar belangstelling gaande sal maak. In Louis se geval het ’n bietjie onderrig in musiek van hom ’n bekende trompetspeler en kunstenaar gemaak. Wanneer ons ons kinders op liefdevolle wyse in die Woord van die Here onderrig, moet ons hulle ook aanmoedig om hulle talente te ontwikkel sodat hulle eindelik kan word wat God beplan het hulle moet wees.