Ek het nog altyd gevoel dat jy die hand van God die beste in die truspieëltjie kan sien. Deur terug te kyk oor gebeure, kan jy beter verstaan waarom Hy jou in ’n sekere huis geplaas het; waarom Hy jou met sekere mense in aanraking gebring het en waarom Hy sekere omstandighede in jou lewe toegelaat het. Dan kan jy ook begryp waarom probleme en hartseer oor jou gekom het, waarom Hy jou na sekere plekke gelei het en waarom Hy jou in ’n sekere beroep geplaas het. In my eie lewe kry ek baie duidelikheid (natuurlik nie volkome duidelikheid nie – dit sal ons slegs in die hemel vind) oor die liefdevolle wyse waarop Hy my gelei het deur “sy groot dade” (Psalm 92:5). Saam met die psalmdigter wil ek die Here loof as ek terugkyk en sien hoedat Hy my gehelp, gelei en my sake bestuur het, sodat alles goed verloop het (Psalm 111). Om vorentoe te kyk is nie so maklik nie. Het jy al ooit gevoel dat die pad vorentoe so donker en onseker lyk? Voordat jy nou die nuwe jaar inbeweeg kyk in die truspieëltjie van die afgelope jaar en jy sal met blymoedigheid besef dat God bedoel het toe Hy gesê het: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie. Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my Helper, ek ken geen vrees nie” (Hebreërs 13:5,6). Met God se beloftes en sy kosbare teenwoordigheid kan jy 2011 met vertroue tegemoetgaan.