’n Hotel in Singapore het nou ’n buffetete ingestel – eet soveel as wat jy kan gedurende 30 minute en betaal net die helfte van die prys. Nadat hy dit probeer het, het ’n man verklaar: “Ek het my fatsoenlikheid verloor, ’n absolute vraat van myself gemaak, en my ordentlikheid prysgegee – boonop het ek die hele dag maagpyn en sooibrand gehad.” Somtyds voel ek dat ons ons Bybellees en stiltetyd net soos ’n gejaagde buffetete hanteer. Ons lees so vinnig as wat ons kan en wonder dan waarom ons niks geleer het nie. Net soos fisiese kos moet geestelike voedsel ook gekou en herkou word. Veral ons wat lank reeds Christene is, het die geneigdheid om die gedeeltes wat ons al dikwels gelees het, sommer vinnig deur te lees en nie daaroor na te dink nie. Maar deur dit te doen, sien ons nie raak wat die Here ons wil leer nie. Een sekere teken dat ons besig is om dit te doen, is dat ons niks uit daardie Skrifgedeelte leer nie. Dawid het die regte gesindheid geopenbaar toe hy geskryf het: “Al u bepalings wil ek een vir een opnoem. Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld. U bevele bly my altyd by” (Psalm 119:13,14,15). Dis hoe God se Woord hanteer moet word – neem tyd en oordink dit. Laat ons nie die Bybel hanteer asof ons by ’n buffetete aansit nie. Slegs deur op God se Woord te konsentreer, sal ons geestelik groei.