Gedurende die eerste jare van die Internet, het persone wat op die Web betrokke was, hulle eie reëls gemaak en die gevolg was algehele verwarring. Die een probleem was dat wat goed gelyk het op een rekenaar, onleesbaar was op ’n ander. Dit het daartoe gelei dat ontwikkelaars na die Internet verwys het as die wilde, wilde Web, na aanleiding van die tyd toe daar geen wet en orde in die Weste van Amerika was nie en van die wilde weste gepraat is. Om hierdie chaos te beëindig, het ontwikkelaars gevra dat daar algemene standaarde ingestel moes word, waarby almal moes hou. Hierdie versoek herinner ons daaraan dat dit belangrik was vir die Israeliete om wette te hê waarvolgens hulle moes lewe toe hulle Egipte verlaat het (Deut. 4:1). Sonder die wette sou daar anargie geheers het. Met die wette sou hulle ’n sisteem hê wat so voortreflik sou wees dat hulle aan ander volke kon demonstreer hoe groot en almagtig hulle God is (vs. 8). Om uit die greep van die sondige en selfsugtige wêreld te ontkom, onderwerp gelowiges hulle aan die wet van Christus (Gal. 6:2), Hy wat self die vervulling van die wet was. Hy het die wet sy “volle betekenis” laat kry (Matt. 5:17). As ons onsself aan God se standaarde, soos deur Christus getoon, onderwerp en ander lief hê soos wat God ons liefhet, sal ons vrede ondervind en ’n getuienis aan ander oordra.