Ek sou nie graag die stryd teen ’n hemelse engeleskaar wou aanknoop nie, maar ek moet erken dat ek al gewonder het oor die belofte wat engele aan die skaapwagters daar in Betlehem gemaak het. Hulle het vrede belowe, maar die afgelope 2000 jaar het ons planeet nog maar min vrede geken. Oorloë woed voort en onskuldige lewens word vernietig. Huislike geweld neem steeds toe, egskeidings kom al meer voor, kerke skeur en vrede voel vir ons soos ’n onbereikbare droom. Waar dan is die beloofde vrede waarvan die skaapwagters gepraat het? Wel, as ons eerlik wil wees, moet ons erken dat Jesus alles die wêreld ingebring het wat nodig is om vrede te bewerkstellig. Hy het die beginsels van vrede uitgestip en ons opgeroep om ons naaste lief te hê soos ons onsself liefhet. Toe Hy hierdie planeet verlaat het, het Hy belowe: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle” (Joh. 14:27). Hy het ons beveel om die ander wang te draai, die ekstra myl te stap, beledigings te vergewe, gierigheid af te lê en mekaar se swakhede te verdra. Ons moet mekaar liefhê soos Hy ons liefhet. Dit lyk dus asof vrede in ’n groot mate van ons afhanklik is. Paulus sê: “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense” (Rom. 12:18). Kom ons maak dit ons doel hierdie Kerstyd om vrede ons geskenk aan die wêreld te maak en Jesus te vereer.