As jou dokter jou skakel en in ’n ernstige stemtoon sê, “Kom sien my asseblief so gou as moontlik. Daar is iets wat ek met jou moet bespreek,” sal jy weet dat hy slegte nuus vir jou het! Jou eerste reaksie sal waarskynlik wees: “Nee, ek wil nie weet nie.” Maar jy sal tog gaan, want dis eers as jy weet wat fout is, dat jy medikasie daarvoor kan kry. God, ons groot Geneesheer, het ook slegte nuus vir ons en wel oor ons geestelike toestand. Toe Adam en Eva teen God se direkte verbod opgetree het en van die verbode vrugte geëet het, het God gesê dat hulle geestelik en liggaamlik sou sterwe. Dis beslis slegte nuus! Maar God het ook die oplossing gebied. Hy het ’n Verlosser belowe (Gen. 3:15) en die apostel Johannes sê: “Die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom” (Joh. 1:17). Maar hoe kan dit ons help? Jesus het daardie eerste Kersdag gekom om God se genade te betoon, iets wat niemand van ons verdien nie, omdat ons almal, soos Adam, gesondig het. Maar Jesus het ook gekom om dit wat die sonde gedoen het, tot niet te maak. Hy het as die waarheid gekom (Joh. 14:6) en sou ons so na God terugbring. Ja, Hy het gekom om “sy volk van hulle sondes … [te] verlos” (Matt. 1:21). Luister tog na wat die Groot Geneesheer in verband met jou geestelike gesondheid sê. Aanvaar dan die medikasie wat Hy voorsien – die gawe van verlossing deur Christus.